Interessante ou wêreld waarin ons bly. Ons mag wel in die bosse bly, maar hier word ons blootgestel aan allerande soorte mense, elke kleur en geur, van elke uithoek van die wêreld. Vir my wat eintlik maar ‘n buitestaander is, is dit fassinerend om mense dop te hou, met hulle te gesels, te hoor hoe hulle oor goed voel, hoe hulle dink. En ek het agtergekom: mense is mense is mense. Almal word lief, raak kwaad, raak hartseer, het families, kry seer, het bekommernisse, het irritasies. Almal dieselfde. Maar tog so verskillend.
Amerikaners wat vir die eerste keer kom, vra vooraf vir limousine’s om hulle te gaan haal by die lughawe, en verwag hotelakkommodasie. Niemand bars hul borrel nie, maar hulle word net soos enige ander besoeker met die bussie sonder aircon by die lughawe opgelaai en bly in ‘n pre-fab huisie – as hulle gelukkig is. Andersins is dit een van die enkelkwartiere sonder kombuis en ‘n gemeenskaplike badkamer. In hulle guns, hulle gooi nooit ‘n tantrum as daar nie aan hulle vereistes voldoen word nie. Hulle suig alles van Afrika op soos ‘n spons: wil alles ervaar, sien en neem foto’s dat dit klap. Hulle is gewoonlik baie gelykmatige mense, raak nie gou opgewen nie.
Die Franse en Duitsers is baie soos ons. Die Duitsers werk hard, is perfeksionisties, maar kan ‘n lekker hap maak in die kroeg en is heel gesellig. As hulle kwaad raak, is dit erg om te aanskou. En ek dink hulle vat Afrika soos dit kom. Die Franse is meer puntenering oor wat hulle eet en drink, maar herinner my aan die plaasmense van Suid-Afrika. ‘n Ding is óf reg óf weg. Hulle is rustige mense, en dit neem baie om hulle ergerlik te maak. Gekultiveerd, sou ek hulle noem. Ongelukkig is taal baie keer ‘n struikelblok. Al praat hulle meestal Engels, is dit steeds sukkel-sukkel.
Brasiliane is ’soft-spoken’ en ‘gentle’. Eintlik half persoonlikheidloos. Glad nie aggressief nie, baie tegemoetkomend en inskiklik. Swart Afrikane van plekke soos Zambië, Mosambiek en Zimbabwe, is so anders as wat ek normaalweg sou verwag. Hoogs opgelei en dinamies. Oopkop en streetwise. Regte wêreldburgers. Die Kiwi’s is ook sonder draadwerk. Hou nie baie van Afrika nie, maar cope goed, onder omstandighede.
Die Portugese (die klomp wat vars uit Portugal kom) kyk uit vir mekaar en meng nie graag met ander kulture nie. Hulle sal wel by die watergat kom gesig wys, maar ek het nog nooit een dronk of luiddrugtig gesien nie. Hulle is altyd fris en fleurig aangetrek en hou nie daarvan om vuil te word nie. Van die grootste rassiste wat ek al ontmoet het.
Dan is daar ons Boere. As ons hier van Boere praat, sluit dit alle kleure in. Seker omdat makliker oor die tong kom as “Suid-Afrikaners”. Die Boere werk hard en speel hard. Vrydag en Saterdag is drinkdag, sportdag, kom-ons-gaan-mal-dag. Op daardie dae is die Boere hard en luid. Hulle raak gou kwaad en baklei met mekaar. Naweke loop hulle met kortbroeke en plakkies en T-shirts met gate rond. Sondae gaan haal almal by die kantien kos, maar die Boere kook hul eie Sondagmiddagete soos hulle by die huis sou eet. Deur die week speel die Boere nie. Hulle werk, werk, werk. Hulle kla en moan, maar hulle hou aan werk. Iets wat uniek aan die Boere is (en ek praat nie van myself hier nie), is dat hulle ‘n poging aanwend om dit ‘huis’ te maak. Hulle sal blommetjies in hul tuintjies plant. ‘n Groentetuintjie begin. ‘n Stokperdjie begin. Vir die ander expats is dit bloot ‘n werkplek.
Wat vir my interessant is, is die paar Engelse en Portugese wat so lank in Suid-Afrika is dat hulle ”ver-Boer” het. Hulle pas nie meer in (my) tipiese Porugees-boksie of Engelsman-boksie nie. Hulle lyk soos ons, dink soos ons, lag vir dieselfde goed as ons. Eintlik vreemdelinge vir hul eie mense.
Die Angolese is nie baie lief vir expats nie. As hulle ons almal hier kon wegkry, sou hulle. (Maar hulle kan nie, want sonder expats sou die land nog steeds in sak en as gewees het.) Maar – en dis nie ‘n lieg- of spogstorie nie – van al die expats het hulle die meeste tyd vir die Boere. Ek het al gewonder hieroor. Die Boere is meestal useless as dit kom by ‘n nuwe taal aanleer, die meeste kom nog steeds oor die weg met ‘n paar Portugese sleutelwoorde en baie gebaretaal. Die Boere kan vreeslik kwaad raak. Meeste Boere is taamlik taktloos en noem ‘n spade ‘n spade. So, nie ‘n nasie wat uitgaan om homself geliefd te maak nie, maar op ‘n manier het ons dit tog reggekry.
Die wit huisvrou van Bom Jesus se (onwetenskaplike!) bestudering van verskillende bevolkingsgroepe gaan voort…



Saampraters